Hond ‘leer’ man Afrikaans
Jan 17 2006 02:01:04:090AM  - (SA)  
Liesl Pretorius

JOHANNESBURG. – ’n Suid-Afrikaner wat in Amerika studeer, het haar hond in Afrikaans grootgemaak om haar Amerikaanse verloofde te verplig om haar moedertaal te leer praat.

Dít is een van die maniere waarop landsverlaters hul nuwe omstandighede hanteer, blyk uit The Expat Confessions, ’n boek deur twee oud-Suid-Afrikaners wat pas verskyn het.

Jenni Baxter, medeskrywer, sê per e-pos uit Australië dié boek handel oor landsverlaters se “gevoelens en gedagtes oor hul besluite, die land, die mense wat agterbly en hul nuwe ervarings”.

Sowat 500 landsverlaters in 34 lande is hieroor gepols.

Baxter se mede-outeur, Ted Botha, sê uit New York hy hoop dié boek sal die “negatiewe houding” oor landsverlaters teenwerk.

Baxter sê die grootste redes waar-om mense die land verlaat, is om hul “horisonne te verbreed” en om misdaad vry te spring.

Ander redes sluit in geliefdes wat reeds weggetrek het en werkskaarsheid.

“Baie mense het nie beplan om hulle oorsee te vestig nie. Hulle het op soek na avontuur oorsee gegaan en toe op iemand of op die plek verlief geraak.”

Sommige keer terug omdat hulle nie dieselfde lewenstyl as hier kan handhaaf nie. Party voel soos buitestanders in hul nuwe land, ander is “sat” vir die weer, mis bekende dinge of wil terugkom om ’n verskil te maak.

“Die geheim is om daaraan gewoond te raak om iemand sonder ’n geskiedenis te wees vir wie niemand omgee nie. Dan kan jy daaraan werk om mnr. Iemand te word,” sê ene Trevor van Nieu-Seeland oor aanpassing in die boek.

Botha sê hy was verras oor die woede van mense wat meen hulle is uit die land gedwing en dat sommige ondanks hul verlange nie na die land terugkeer nie.

Baxter sê baie wil nie noodwendig terugkeer nie, maar wil ’n bydrae in Suid-Afrika lewer.

Dit strook met die bevindinge van ’n studie wat in opdrag van die Homecoming Revolution gedoen is.

Dié studie onder sowat 500 Suid-Afrikaners en voormalige burgers wat oorsee bly, het bevind 72% wil “iets aan die land teruggee”.

The Expat Confessions is beskikbaar by http://www.sareunited.com/book_expats.php.